ESTRUS EN SINKRONISASIE VAN ESTRUS BY BEESTE
Estrus (letterlik begeerte) is die tydperk waartydens die koei of vers gedrag openbaar wat dui op haar behoefte om gedek te word. Dit word gekenmerk deur haar gedrag waartydens sy ander diere sal toelaat om haar te spring. Hierdie tydperk duur gemiddeld 20 ure. Dit is op hierdie stadium wat sy onder natuurlike toestande deur `n bul gedek word.
In die normaal gesonde koei geskied ovulasie, die proses waar `n ryp eiertjie uit eierstok bars, aan die einde van estrus. Die wondjie wat ontstaan na die vrystelling van eisel tydens ovulasie, vorm `n struktuurtjie soortgelyk aan `n roof op eierstok. Hierdie rofie (staan as corpus luteum bekend) groei en produseer die hormoon van dragtigheid (progesteroon). Indien sy dragtig is, bly die corpus luteum hormone produseer vir die dragtigheidstermyn. Indien sy nie bevrug was nie, skei die baarmoeder prostaglandien vry. Dit gebeur ongeveer 16-17 dae na vorige ovulasie. Hierdie prostaglandien breek die rofie af sodat progesteroonproduksie staak (dit staan as luteolise bekend). Tydens periode vanaf vorige ovulasie is daar enkele eiselle wat groei maar nie tot rypheid vorder nie. Wanneer progesteroonproduksie daal begin een van die ontwikkelende eierselle vinnig groei. Die voering van die holte waarin die eisel lê produseer estrogeen wat verantwoordelik is vir estrusgedrag. Op hierdie wyse word die siklus herhaal en dit duur ongeveer 21 dae tussen opeenvolgende ovulasies.
Estrussinkronisasie is die proses waar hierdie proses aangepas word sodat estrus in `n voorspelbare tydgleuf kan geskied.
ESTRUSSINKRONISASIE
Estrussinkronisasie word gedoen om die tydperk van estruswaarneming te verkort of uit te skakel met vastetyd inseminasie (VTI).
SINKRONISASIE METODES:
TYDELIKE SPEEN
Met hierdie behandeling word kalwers vir 48 tot 72 uur afgehok sodat hulle nie kan suip nie. Op hierdie manier word ongeveer 63% van koeie in 9 dae tydperk bronstig. Dit kan help om die tydperk van kunsmatige inseminasie te verkort waar op natuurlike estrus insemineer word. Dit kan ongelukkig nie in vaste tyd inseminasie (VTI) programme gebruik word nie.
PROSTAGLANDIEN METODE
Hierdie middels word reeds vir `n lang tydperk aangewend in sinkronisasie programme. Die beginsel waarop hierdie middels werk is die volgende: Prostaglandien toediening het tot gevolg dat `n aktiewe corpus luteum vernietig word (luteolise). Die corpus luteum skei dragtigheidshormoon af. Na luteolise word daar nie meer van hierdie hormoon (progesteroon) afgeskei nie, dus word die sikliese eiselontwikkeling nie meer onderdruk nie en verskyn estrus ongeveer 72 tot 90 uur na toediening. Dit beteken egter dat indien `n dier dragtig sou wees, sy gaan aborteer. Indien daar nie `n aktiewe corpus luteum op die eierstokke is nie of daar is reeds `n ontwikkelde follikel, het die middels geen effek nie. Dit is vir laasgenoemde rede soms nodig dat behandeling herhaal moet word ongeveer 11 dae na eerste behandeling.
PROGESTEROON METODE
Progesteroon word toegedien met behulp van onderhuidse implantate of deur intravaginale apparate. Die beginsel waarop hierdie middels werk is die volgende: Progesteroon (dragtigheidshormoon) wat deur corpus luteum geproduseer word of sintetiese progestagene het tot gevolg dat die brein dit interpreteer dat die dier dragtig is en stel geen vrystellingshormone wat eiselontwikkeling stimuleer vry nie. Sodra hierdie implantaat of apparate verwyder word, kry die brein nie meer die sein dat dier dragtig is nie en daarom word `n vrystellingshormoon afgeskei wat die eierstokke stimuleer om `n eisel spoedig gereed te kry. Estrus verskyn gewoonlik 36 tot 72 uur na verwydering. Progesteroon programme maak gewoonlik gebruik van sintetiese estradiol wat tydens plasing ingespuit word. Dit dien as voorvoer (Eng. Priming) vir eiselontwikkeling en mag help om anestrus te verlig.
SINKRONISASIEPROGRAMME:
Hieronder word enkele programme wat gevolg kan word, beskryf. Dit is belangrik dat u daarop moet let dat die middels slegs op voorskrif van u veearts beskikbaar is en onder sy toesig/beheer gebruik mag word. Aangesien aborsies mag voorkom, moet slegs nie-dragtige diere behandel word. U word aangemoedig om die beoogde program met u veearts te bespreek en te verseker dat slegs gesonde nie-dragtige diere behandel word.
SINKRONISASIE MET PROSTAGLANDIEN DERIVATE
Indien u veearts diere rektaal ondersoek, kan nie-dragtige diere met aktiewe corpus luteum `n enkele dosis prostaglandien toegedien word. Vir 48 tot 96 uur na toediening moet intensief estruswaarneming gedoen word en inseminasie gedoen word.
Indien palpasie nie moontlik is nie, word diere vir 5 dae waargeneem en die wat in estrus kom, geïnsemineer. Op die sesde dag word die restant soos in program 1 behandel.
Diere ontvang `n dosis op dag 0. Diere word soos in program 1 hanteer. Die wat nie binne 96 uur in estrus kom nie, word op dag 10 of dag 11 weer `n dosis toegedien. Diere word insemineer soos hulle in estrus kom (72 tot 96 uur na tweede dosis). Waar op vaste tyd insemineer word kan dit op 72 uur en weer 90 uur gedoen word. Waar slegs eenkeer insemineer word, word dit op 80 uur na tweede dosis gedoen.
SINKRONISASIE MET PROGESTEROON DERIVATE
(implantate of intravaginale toestelle)
Plaas toestel of implantaat vir 8 tot 11 dae en dien `n dosis prostaglandien toe met verwydering.
Dien sintetiese estradiol toe met plasing en verwyder op twaalfde dag.
Plaas vir 14 dae sonder estradiol of prostaglandien toediening.
Plaas vir 7 tot 11 dae en dien 240-300 IU dragtige merrie serumgonadotropien toe met verwydering.
Hierdie metode word veral met sogende koeie vroeg (60-80 dae) in dekseisoen gebruik.
This site was created with the Nicepage